Saterdag 09 Februarie 2013

Gee aan hom wat jou iets vra...?


(Mat 5:41)  En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.
(Mat 5:42)  Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.
------------------------------------------------------

Jesus se woorde in die Bergpredikasie, is vir baie 'n struikelblok, maar ons moet Jesus se leringe ernstig opneem - Hy het ook immers die dissipels beveel om nie net die evangelie te verkondig nie, maar ook die volgende woorde ingesluit:  (Mat 28:19 - "......en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het".

 Ons weet goed dat, alhoewel 'n stelling soos bo, somtyds eenvoudig kan klink, dit net nie altyd so eenvoudig is nie. Ons weet ook dat daar diesulkes is wat selfsugtig is en so 'n stelling absoluut sal uitbyt.
*  Jesus het ook nie altyd vir mense gegee wat hulle vra nie - kyk bv. op hoeveel geleenthede die  Fariseërs en Sadduseërs Hom gevra het om‘n teken uit die hemel, maar Hy geweier het om dit te doen!  Sy antwoord aan hulle? - (Mat 16:4 - "‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet. En Hy het hulle verlaat en weggegaan").
*   Ook die Kananése vrou in Matt. 15. het Hy nie onmiddellik gehelp nie, maar toe Hy sien hoe groot haar geloof was,  het Hy haar dogter tog gesond gemaak. (Die rede hiervoor was dat Jesus eers die koninkryk aan die Jode verkondig het, en so was ook die geval in die eerste gemeentes).
------------------------------------------------------

(Mat 5:42)  Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie. 
Wel, as iemand se motiewe verkeerd is hoekom hy dan iets vra, dan gaan die Here nie van ons verwag om gehoorsaam te wees hierin nie! (soos in bg. geval met die Fariseer en Sadduseers).  Jesus se woorde in Matt. 5, het gegaan oor hulp aan die wat werklik "nodig het" (die liefde). 

Wanneer ons bv. kyk na hoe Jesus die Sabbat hanteer het, het Hy dinge heelwat anders gedoen;  (a.g.v. menslike gebooie, het die liefde by baie ontbreek).  Jesus het dit duidelik gemaak dat nie eens die Sabbat iemand kan terughou as iemand anders hulp nodig het nie.  Wat by die mense ontbreek het, was "die liefde", "die wil om iemand te help" (al is dit ook die Sabbat).  Hierdie was 'n belangrike punt wat Hy aan hulle probeer leer het - iets wat steeds vandag ontbreek.

A.g.v. "selfsug" en die begeerte om "meer te he", en die gesindheid van om "op te gaar", veroorsaak dit ook dat mense nie bereid is om te deel en te sien waar nood is nie. Jesus het dit duidelik gemaak dat mens se lewe nie bestaan uit die oorvloed van besittings nie (Luk. 12:15) - Hy het gese: "Pasop, en wees op julle hoede vir die hebsug".  In die verhaal van die man wie se grond besonders goed gedra het in Luk. 12, verduidelik Hy wat dit beteken as iemand vir hulleself skatte vergader, maar nie RYK IS IN DIE HERE nie. Die ryk man moes liewer sy ekstras uitgedeel het, as om dit alles vir homself te hou.  Hy was selfgesentreerd en daarop ingestel om homself te verryk - so, het Jesus vir ons geleer, moet dit nie wees nie! Dit kom daarop neer dat hy sou moes gee "wat hy het", nie net in oorvloed nie.  As hy net uit sy oorvloed gee, sou hy steeds die meeste opgaar.  "Om te gee", gaan dus nie net oor "gee uit oorvloed nie", maar om te gee "van dit wat jy het". 
Dit is dan ook hoe die eerste gemeentes afgeskop het - hulle het alles gedeel en selfs ekstra besittings en grond verkoop om in node te voorsien.  Waar selfsug egter 'n rol speel en mense se lewens vir hulle bestaan uit "wat hulle kan bymekaarmaak", ontbreek die liefde.  So 'n persoon se oe is toe vir sy naaste en sy begeertes en "eie wil" verblind hom.
 Jesus het o.a. die volgende stelling gemaak:  
(Mat 16:25)  "Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind" - hierdie skrif was nie net gebruik in konteks met "om bereid te wees om te sterf vir die Here" nie, maar ook in konteks met:  (Mat 16:26)  "Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?".  (Kyk ook Luk. 17:26-33 en Joh 12:24) - "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug";  (Joh 12:25)  "Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe".)((Lees Matt. 10:37-42;  Matt. 16:25-27;  Luk. 17:26-37, Luk. 6:20-26 en  Mark. 8:31-38, 2 Pet. 2:20-22, Jak. 4:13-17) -dit moet dus nie vir ons gaan oor WêRELDSE LEWE EN BESITTINGS,  of  WêRELDSE BEGEERTES  of  EIE WIL nie, want die mens wat so ingestel is, sien nie die nood van 'n ander raak nie en is nie bereid om die ekstra myl vir die ander te stap nie. 

Die mens wat glo dat mens net gee uit oorvloed, gee min, want "hoe meer hy het, hoe meer wil hy he".  Die mens wat gee uit wat hy het, sal altyd he, want "die wat gee, ontvang".

Geen opmerkings nie: