Donderdag 29 Desember 2016

Die man die hoof van die vrou

1Kor. 11:3 - "Maar ek wil hê dat julle moet weet dat
- Christus die hoof is van elke man, en
- die man die hoof van die vrou, en
- God die hoof van Christus".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
HOEKOM HEERS DIE MAN OOR DIE VROU?
Daar is 2 redes wat vir ons gegee word in 1 Tim. 2:13,14 van hoekom die man oor die vrou gestel is:
(1) Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.
(2) En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.


(1) (1Ti 2:13)  Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.
In enige familie dra die eersgeborene meer gesag. Om daardie rede moet die jonger broers en susters altyd die oueres gehoorsaam - nie net omdat hulle eerste gebore is nie, maar ook omdat hulle wyser is.  Hulle het meer kennis omdat hulle ouer is.  Meer ondervinding van die lewe en hoe ouer mens word, hoe meer wys word jy.  Die Christelike ondervinding word ook op dieselfde manier voorgestel  -  "babas - kinders - jongmense - vaders...  Baie wat tot geloof kom, stop by die baba stadium, ander vorder slegs tot die jongmens stadium... Dit is altyd gevaarlik vir 'n Christelike gemeente as daar gelowiges is wat die gemeente lei asof "vaders" maar hulle is nog eintlik "babas" - dit het ook gebeur in die gemeente van Korinthiers!, en het nie goeie gevolge gehad nie  (http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/08/hoe-groei-die-christen-geestelik.html). Vaders kan nie deur babas gelei word nie. Ook moet ons verstaan dat in die koninkryk van God dit nie slegs gaan oor wie eerste gebore is nie, maar ook oor wie "gegroei" het!  Die wat nie regtig tyd maak met die Here en Hom en Sy woord te leer KEN nie, of die wat nie belangstel om oorwinning te kry oor sonde nie, bly altyd by die baba-stadium.  Dit is ook juis die dinge wat wys wie regtig glo en gehoorsaam. En ook die rede waarom baie hulle eersgeboortereg verloor het! As die ouere nie groei nie, kan hy nie die jongere ly nie.

Ons vind verskeie voorbeelde in die Skrif van mense wat hulle eersgeboorte posisie verloor het omdat hulle nie hul posisie respekteer het nie.  As jy die oudste is, moet jy soos die oudste optree!  In die O.T. was die eersgeborenes gesien soos die "priesters" van die familie, maar baie het hierdie posisie verloor omdat hulle nie soos priesters opgetree het nie. Neem bv. vir Esau, Ruben, die eersgeborenes onder die volk v/d Here....ens.(http://warechristene.blogspot.co.nz/2015/04/eersgeborenes-en-eerstelingepriesters.html ).  Net soos wat hierdie eersgeborenes hulle eersgeboortereg en priesterlike verpligtinge verloor het a.g.v. ongehoorsaamheid en ongeloof, moet Christene wat bekendstaan as deel van die heilige volk en priesterdom, versigtig wees en nie dink dat hulle kan staatmaak op "plek" as hulle hul plek nie respekteer nie. Net so kan die MAN nie staatmaak op sy "eersgeboortereg" (as man) as hy stap in ongehoorsaamheid en ongeloof nie! Die man se outoriteit oor die vrou is onderwerp aan sy onderdaningheid aan die Here! As 'n man sy eersgeboortereg wil behou, dan moet hy soos 'n eersgeborene optree.  Op dieselfde wyse wat Adam eerste gemaak is en daarna Eva,  is Christus Jesus die EERSGEBORENE van die hele skepping (Kol. 1:15; Hebr. 1:6).  Hy is ook die Eersgeborene uit die dode (Kol. 1:18; Openb. 1:5) (die eerste wat die dood oorwin het, en eerste van almal wat sal opstaan tot lewe);  en dus ook die Eersgeborene onder baie broeders (Rom. 8:29);  EN DUS DIE HOOF VAN DIE MAN!

Op dieselfde wyse is die volk Israel gesien as God se "eersgebore seun", die eerstelinge van Sy opbrings (Jer. 2:3)(maar is ook geroep spesifiek omdat Abraham se GELOOF hom tot geregtigheid gereken is). As God vir Hom 'n volk moes kies wat eendag saam met Hom regeer en lei, dan sal Hy nie 'n volk kies wat alreeds bewys het dat hulle in ongehoorsaamheid lei nie (soos Eva in ongehoorsaamheid gelei het nie)! Daarom het Hy vir Hom 'n volk bymekaargemaak uit die nageslag van Abraham.  En uit hierdie volk (en deur die "Seun van Dawid" - en dan die saad van Sy eersgebore Seun Jesus Christus, deur Sy Gees) maak die Here vir Hom 'n priesterlike volk bymekaar wat uiteindelik alles sal erf en saam met Hom sal heers - 'n gemeente van eersgeborenes (Hebr. 12:23). Daarom word Christene genoem 'n "priesterdom", want hulle is gebore uit die saad van God...  en sal eendag saam met Hom regeer. http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/07/en-ons-gemaak-het-konings-en-priesters.html


(2) (1Ti 2:14)  En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.
Die tweede rede waarom Adam oor die vrou heers is omdat sy ongehoorsaam was en toe vir Adam "verkeerd gelei" het.  (Sy het dus gewys dat sy nie 'n leier is nie, want 'n goeie leier "lei" nie verkeerd nie). Adam boet natuurlik vir die feit dat hy hom deur die ongehoorsame vrou laat lei het, maar daar word nou van hom verwag om anders te lei as wat sy gedoen het, want hy moet  leiding neem in gehoorsaamheid en geloof . As priester word dit van hom verwag om as leier " 'n boodskapper vir die Here" te wees, om "die Here te raadpleeg en Sy wil te ken"  en "die familie in die wil van die Here" te lei. Hy het ook 'n verdere plig om "die kennis te bewaar" en natuurlik daarom lering te gee. Geen man kan staatmaak op die "priesterskap" as hy nie doen wat van 'n priester verwag word nie.  Die Christelike man moet besef dat gebed en om die Here te raadpleeg en Sy wil te soek, die basis is van "sy leiding".  En as hy nie tyd maak om die Here en Sy dinge te leer ken nie, hoe kan sy familie dan enigsins staatmaak op sy lering?  'n Deugsame vrou laat haar nie deur 'n blinde leier lei nie, want dit sou beteken dat sy self ook blind is - as sy haar deur 'n blinde man laat lei, sal hulle altwee in die sloot val. (Matt. 15:14).  Maar 'n man wat soek na die waarheid en die Here ken en raadpleeg, dit is 'n man wat sy gesin kan lei in die wil van die Here...

Daar word van Adam verwag om te lei, maar nie soos Eva hom gelei het (in ongehoorsaamheid) nie, maar sy leiding moet gebeur deur geloof en gehoorsaamheid aan die Here.
Op dieselfde wyse is die volk Israel gesien as God se "eersgebore seun", die eerstelinge van Sy opbrings (Jer. 2:3), maar is ook geroep spesifiek omdat Abraham se GELOOF hom tot geregtigheid gereken is!  Maar wat het gebeur met die ongehoorsame en ongelowige takke op hierdie boom (van eersgeborenes)? - Hulle is afgebreek en ander takke (wat nie oorspronklik deel was v/d "eersgebore seun"/volk nie) is op die olyfboom ingeënt  (Rom 11:17). Maar let op die waarskuwing in v.19-21 aan die Christene uit die heidene (die wat ingeent is in die afgebreekte takke se plek):
-(Rom 11:19)  Jy sal dan sê: Die takke is afgebreek, sodat ek ingeënt kon word.
-(Rom 11:20)  Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.
-(Rom 11:21)  Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.
Ons sien dus die belangrikheid van om "in die GELOOF te bly".  Die wat priesters wil wees moet priesters wees IN GELOOF en GEHOORSAAMHEID AAN DIE HERE, anders kan hulle dit verloor... 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------
EN DIE TWEE SAL EEN VLEES WORD:

DIE MANIER HOE DIE MAN OOR SY VROU HEERS GESKIED IN LIEFDE.  HY HEERS OOR HAAR SOOS HY OOR SY EIE LIGGAAM HEERS (want hulle twee is EEN). Die Christelike man lei sy vrou om ook aan die Here gehoorsaam te wees (net soos hyself is), en staan nie in haar pad om die Here se opdragte uit te voer en deur die Here gebruik te word nie. Die Christelike man sien nie sy regering as outokraties en selfsugtig nie, maar bewys eer aan sy vrou, leef verstandig met haar saam en word nie bitter nie. Hy respekteer haar liggaam soos sy eie. Die manier waarop hy sy vrou lei, is ook die manier waarop hy graag self gelei sou wou word, want haar vlees is soos sy eie vlees. Sy behae is na sy vrou, maar as hoof van die vrou, is sy behae eerstens na die Here sodat hy haar kan lei in onderdanigheid aan die Here. Hy is ook bereid om sy lewe vir haar af te le (want haar vlees is soos sy eie vlees).
------------------------------
(Mar 10:8,9 - "en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie")
(Ef. 5:28)  So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;
(Ef. 5:29)  want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.
(Ef. 5:30)  Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.
Wanneer 'n man en vrou in die huwelik tree, dan word hulle EEN.  Maar wat beteken dit?  Veral verwys dit na hoe die twee nie mag skei nie (want hulle is nou EEN)(Mat 19:5,6), maar dit verwys ook daarom na hoe "die man die vrou moet liefhe".  In Ef. 5:28-30 word dit verduidelik dat die vrou se liggaam vir die man word soos sy eie liggaam (net soos ons ook lede is van een liggaam in Christus Jesus).  Die man moet dus sy vrou liefhe soos hy homself liefhet. Op dieselfde wyse wat hy sy eie liggaam voed en koester, moet hy vir haar "voed en koester".  (Ef. 5:31 - "Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word"). Ook net soos Christus die gemeente liefgehad het en Homself daarvoor gegee het, so moet die mans hulle eie vroue liefhê (Ef. 5:25).

As 'n man sy vrou sien "soos sy eie vlees", en hy is 'n man wat onderdanig is aan sy Here, dan sal hy ook nie in sy vrou se pad staan wanneer sy aan die Here onderdanig wil wees nie, en sal haar respekteer as 'n mede-erfgenaam van die genade v/d lewe (1 Pet. 3:7).  Alhoewel die vrou ondergeskik is aan die man, moet ons ook verstaan dat, as sy aan Christus behoort, is sy ook ondergeskik aan Hom!;  eintlik, ten eerste ondergeskik aan Christus en dan ondergeskik aan die man (omdat Christus die hoof is van die man!) - dit beteken dat as haar man ongehoorsaam is aan die Here, sy eerder die Here moet gehoorsaam as haar man. As 'n man werklik onderdanig is aan die Here gaan hy nie sy eie wil kies bo die wil van die Here nie.

Die man en vrou is wel besorg oor hoe hulle mekaar behaag ("to be agreeable, to please")(1Kor. 7:29-34), maar as hulle altwee se behae eerstens na die Here is (en dan na mekaar), dan sal hulle ook met mekaar saamstem. 

(Kol. 3:19)  Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.


(1Pe 3:7)  Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.
(1Kor. 7:3)  Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man.(1Kor. 7:4)  Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.(1Kor. 7:5)  Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ‘n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.(1Kor. 7:6)  Maar dit sê ek (Paulus) by wyse van toelating, nie by wyse van gebod nie.

---------------------------------------------------------------------------------------------
TEKEN VAN ONDERDANIGHEID:
(die "teken" van die hoofbedekking)

"Tekens" vorm 'n belangrike deel van kultuur, en word gebruik om iets voor te stel, riglyne neer te le of mense te herinner aan iets belangrik wat gebeur het.  "Tekens" bepaal ook baiemaal die stand van 'n volk en wat hulle glo en as belangrik reken.  So is vakansiedae bv. ingestel as tekens.  Kersfees stel vir meeste Christene Christus se geboorte voor, maar het 'n ander betekenis vir die wat nie glo nie. Tekens soos die nagmaal en die Christelike doop dra geweldig baie waarde vir die Christen, maar is van geen waarde vir die wat nie glo nie.  Dit is duidelik dat die wat nagmaal gebruik ook hulle stand in die samelewing beskryf, want die wat die nagmaal gebruik, is die wat bely dat hulle glo in die Here Jesus Christus en Sy offer aangeneem het.  Deur die teken van die nagmaal te gebruik, word ons herinner aan die duur prys wat Christus Jesus vir ons betaal het... Dus,   "Tekens" beskryf 'n kultuur se waardes.  In die Ou Testament was daar heelwat tekens wat vir daardie mense sin gemaak het, maar nie vir ons vandag nie.  Bv. die verskillende feeste wat op spesifieke tye geval het rondom die oesjaar.  Net so was daar, (behalwe die Sabbat), heelwat ander "sabbatte" en spesifieke vasdae wat alles waarde gehad het vir hulle, maar nie dieselfde waarde vir ons vandag nie.  En hier moet ons onderskei tussen wat is kultuur en wat is wet.  Baie wette van die O.T. was gegee ter wille van kultuur - so, ons moet ook onderskei tussen "wette van die Here" en "wette wat Hy gegee het terwille van kultuur".

Die teken van hoofbedekking was iets belangrik in hulle kultuur, want vir hulle het dit die man se gesag oor die vrou voorgestelTog was dit nooit 'n wet deur die Here gegee nie, en ook nie so 'n wet deur die Here gegee terwille van kultuur nie, maar dit was 'n gewoonte by sekere volke omdat die Here die man bo die vrou gestel het (Gen. 3:16).  Met hierdie teken het hulle dus bely dat hulle glo dat die man bo die vrou gestel is. Hierdie teken het iets voorgestel. In verskeie kulture vandag word die hoofbedekking steeds gebruik om onderdanigheid aan die man voor te stel.  In die eerste gemeentes was dit egter nie almal se oortuiging dat die bedekking nodig is nie, en miskien juis omdat nie alle Christene uit die heidene hierdie gewoonte in hulle betrokke kultuur nagevolg het nie(?).  Vir die Joodse Christene was dit inderdaad belangrik en ons kan sien hoe ernstig Paulus hieroor gevoel het. In 1 Kor. 11:3 maak hy dit duidelik waarom hy dink dit belangrik is (en duidelik die rede vir die hoofbedekking):  " Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus". Maar dan se hy ook in 1 Kor. 11:13 - "Oordeel self: Is dit betaamlik dat ‘n vrou met onbedekte hoof tot God bid?".  En ja, elkeen sal dit verskillend beoordeel, want vir die Joodse Christen was dit belangrik, maar vir baie Christene uit die heidene sou dit nie belangrik wees nie, nie omdat hulle noodwendig nie glo dat die man oor die vrou heers nie, maar omdat die teken nie eintlik vir hulle waarde dra nie. Behalwe dit is dit nie net Christen mans wat gevul word met die Heilige Gees nie, maar ook vrouens. En dit is nie net Christen mans wat die gawes van die Gees ervaar en die skrifte leer nie, maar ook Christelike vrouens, en hulle word ook deur die Here gebruik.  En is ook deel van die GEMEENTE VAN EERSGEBORENES! (Gal 3:28 - " Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus") - hierdie skrif was wel nie gebruik in konteks met wie leiers is of nie, maar in die konteks met "wie volgens belofte erfgename is".  In die huweliksverhouding is die man inderdaad die een wat regeer, maar in die Here is beide man en vrou "eersgeborenes" en "priesters".  Ook is dit nie meer dieselfde soos in bybelse tye toe meeste vroue nie geleerdheid gehad nie;  inteendeel, in sommige Christelike huise het die vroue meer kennis van die Here se dinge as hulle mans.  Dus, om vandag van die vrou te verwag om stil te bly sodat die man alleenlik die lering doen (1 Tim. 2:11) kan in sommige huise tot gevolg he dat die kinders sonder die waarheid grootword!, of verdraaide leerstellings ontvang...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
HOE MOET DIE MAN SY HUIS REGEER:

 Die dissipels het 'n paar maal die tema aangeraak van hoe belangrik dit is vir die man om sy huis te regeer.  Dit is duidelik dat die mans dit nie altyd so lekker onder beheer gehad het nie! Kyk bv. 1Ti_3:5 - "Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?". Dit was geskryf in konteks met die wat 'n opsienersamp begeer het.  Maar laat ons aandag gee aan die dinge wat van die opsiener verwag word (waarvan o.a. "om sy eie huis te regeer"), want dit is duidelik dat die persoon wat hier voorgestel word nie een is wat outokraties sy eie wil soek nie, maar een wat "die Here se wil soek" en Hom gehoorsaam - hy verstaan dus dat sy "regering" ten eerste gaan oor onderdanigheid aan die Here.  En dit des te meer wat bedoel word in 1 Tim. ! - IS DAT IEMAND NIE VIR DIE GEMEENTE VAN GOD KAN SORG DRA AS HY DIT NIE EENS VIR SY EIE HUIS KAN DOEN NIE.  Die Christen-man moet weet wat die wil van die Here is voor hy vir sy familie kan sorg.  Die opsiener moet weet wat die wil van die Here is voor hy vir die gemeente kan sorg. Ons sien ook dat die opsiener verder bekwaam moet wees om te onderrig! (1 Tim. 3:2).  En verder is dit verseker 'n priesterlike plig om die kennis te bewaar en die wat onderdanig is aan hom, te LEI IN DIE WAARHEID (en om dit te kan doen, moet hy natuurlik die waarheid soek en ken).

ONS MOET VERSTAAN DAT DAAR 'N BALANS IS  -  DIE MAN SE OUTORITEIT OOR DIE VROU HET alles TE DOEN MET SY ONDERDANIGHEID AAN DIE HERE!  As hy nie onderdanig is aan die Here nie en nie ag gee op die eerste twee gebooie nie, dan sal hy sy familie heeltyd leed doen want sy outoriteit sal een wees uit selfsug en eie wil. En dan gaan sy leierskap tot sy eie val wees want hy kom dan nie die tweede gebod na nie.  Baie Christen-mans het hulle plek as "EERSGEBORENES" en PRIESTERS alreeds verloor!  As hy maar die Here soek en Hom raadpleeg en leer ken, dat hy weer in staat kan wees om sy huis te regeer in onderdanigheid aan die Een wat oor hom gestel is, nl. Jesus Christus.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie: