Vrydag 23 Maart 2018

Verwys dele in Jes. 14 en Eseg. 28 regtig na die satan?

JES. 14 en ESEG. 28 
_________________________________________________________________________________
In hierdie pos wil ons kyk of Jes. 14 en Eseg. 28 (of dele daarvan) enigsins verwys na die duiwel.  Dit het beslis te doen met interpretasie...
  Hier word slegs een interpretasie behandel.  
--------------------------------------------------------------------------------------------- Die slotsom (in hierdie pos) is as volg:
- In Jes. 14 word wel moontlik verwys na die duiwel, maar meer presies verwys dit na die "koning van Babel", wat op beurt dalk eerder verwys na die Antichris (vd laaste dae), maar l.w. dat die duiwel hom (vir die antichris) sy mag sal gee, en "koning van Babel" kan dus indirek ook verwys na die duiwel.  

-  Die "vors van Tirus" (Eseg. 28) verwys nie na die duiwel nie want die vors van Tirus sterwe (het gesterwe) - terwyl die duiwel nie sterwe nie, en vir 1000 jaar gebind sal word en uiteindelik in die poel van vuur gegooi gaan word.  Die vors van Tirus verwys na 'n leier of heerser (soos 'n mens) wat homself voordoen as 'n god, maar verwys ook nie na die Antichris vd laaste dae nie, want die Antichris word nie doodgemaak nie maar lewendig in die poel van vuur gegooi.

-  Die "koning van Tirus" (Eseg. 28) verwys nie na die duiwel nie, siende die koning van Tirus tot as verbrand sal word (is) en in ewigheid nooit meer sal wees nie.  Dit verwys ook nie noodwendig na 'n mens koning nie, maar wil voorkom of dit eerder na "iets" verwys, soos 'n stad (wat soos 'n koning stad is oor ander stede - sien bv. wat daarbinne aangaan..., bv. "koophandel", en hoe hy/dit gestel is "op 'n berg").

_________________________________________________________________________________
JES. 14:
(rol af vir skrifgedeelte)

Die konteks van hierdie gedeelte gaan oor hoe die Here Hom sal ontferm oor Jakob, en Israel verkies en hulle in hul land laat vestig.... ("en hulle sal dié gevange hou wat hulle as gevangenes weggevoer het, en oor hulle drywers heers") - hulle verdrukker se naam word ook genoem:  "die koning van Babel"! (v.4).  Die gedeelte verwys na die tyd wanneer die Here DIE STOK VAN DIE GODDELOSE EN DIE STAF VAN DIE HEERSERS SAL VERBREEK (L.w. dat Jes. 28 ook eindig met hierdie in gedagte).  In V. 8-20 word van 'n "man" gepraat (v.16) wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het, die wereld soos 'n woestyn gemaak het en sy stede verwoes het;  wat sy gevangenes nie losgelaat het huistoe nie.....maar hy sal in die doderyk neergewerp word - in die diepste plekke van die kuil (v.15). Dan word dit duidelik gemaak in v. 21-27 dat HIERDIE NAGESLAG VAN DIE KWAADDOENERS NIE DIE AARDE IN BESIT SAL NEEM NIE - nee, die Here sal teen hulle opstaan - en wie is die "hulle"?:  (kyk. v. 22) "So sal Ek dan teen hulle opstaan, spreek die HERE van die leërskare, en van Babel uitroei die naam en die oorblyfsel, kroos en nageslag, spreek die HERE" 

DIT IS DUS DUIDELIK DAT DIE GEDEELTE VERWYS NA BABEL, EN "die koning van Babel".  
(EN DIT WIL OOK LYK OF HIERDIE 'N TOEKOMSTIGE GEBEURTENIS IS).  Die inligting in Jes. 14 kan sekerlik vgl. word met dit wat ons weet van die antichris, en die tyd van die laaste dae vd 10 konings, verborge Babilon ens.  Kyk gerus wat opgeskryf is oor die Antichris (vd laaste dae) - dat hy sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god;  hy sal met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref....ens. As dit inderdaad die geval is, dan moet ons nie vergeet dat alhoewel die antichris van 'n man spreek, die draak sy mag aan hierdie man sal gee (Openb. 13:2,4).  Daarom word die antichris nie net gesien as 'n blote mens nie, maar as 'n mens waardeur die duiwel gaan werk en aan wie die draak (duiwel) sy mag sal gee: -let ook op die woorde in Openb. 13:4 - ("En hulle het die draak (die duiwel/satan) aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier (Antichris) aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?"). As die "koning van Babel" in hierdie skrifgedeelte inderdaad na die Antichris vd laaste dae verwys, dan moet ons natuurlik vra of daar enige verbintenis is tussen "Babel" en die Antrichris (siende hy dan in hierdie skrifgedeelte die koning van BABEL genoem word); en die antwoord is ja, want uit verskeie eindtydskrifte is so 'n verbintenis duidelik te sien (kyk bv. Openb. 13 en 17). Kyk ons verder na verborge Babilon (stad) in die laaste dae is dit ook interessant om te merk dat dit heerskappy sal voer oor die konings vd aarde...(Openb. 17:8), net soos wat die die hele wereld agter die dier (Antrichris) sal aangaan (Openb. 13:3). 

Baie geleerdes sien die "koning van Babel" in hierdie gedeelte slegs as dat daar gepraat word van die duiwel - en daar is ook 'n paar dinge wat genoem word wat nie klink of dit na bloot 'n gewone mens verwys nie, bv. dat hy "uit die hemel geval" het! (v.12)(vgl. dit met Luk. 10:18 en Openb. 12:7-9). Hierdie "koning" in Jes. 14 verwys nie na (die stad) Babilon nie, maar na  "die koning van"  Babilon. Die gedeelte noem wel dat hy uiteindelik in die doderyk neergewerp sal word (in die diepste plekke van die kuil), maar daar is nie sprake daarvan dat hy doodgemaak sal word nie - wat sekerlik vgl. kan word met die feit dat die antichris (en valse profeet) lewendig in die poel van vuur gegooi sal word (kyk ook v.20 die woorde, "jy word nie met hulle in die graf verenig nie"); maar let ook daarop dat dieselfde met die duiwel sal gebeur! (Openb. 20:10).  

(Jes. 14:1)  Want die HERE sal Hom oor Jakob ontferm, en Hy sal Israel nog verkies en hulle in hul land laat vestig; en die vreemdeling sal hom by hulle voeg, en hulle sal hul aansluit by die huis van Jakob.
(Isa 14:2)  En die volke sal hulle neem en op hul woonplek bring; en die huis van Israel sal hulle in die land van die HERE as besitting verwerwe, as slawe en slavinne; en hulle sal dié gevange hou wat hulle as gevangenes weggevoer het, en oor hulle drywers heers.
(Isa 14:3)  En op die dag as die HERE jou rus gee van jou smart en van jou onrus en van die harde diensbaarheid waarmee hulle jou laat dien het,
(Isa 14:4)  dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking!
(Isa 14:5)  Die HERE het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers,
(Isa 14:6)  wat die volke verwoes het in grimmigheid met slaan sonder ophou, wat in toorn oor die nasies geheers het met ‘n agtervolging sonder verskoning.
(Isa 14:7)  Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel.
(Isa 14:8)  Ook is die sipresse bly oor jou, die seders van die Líbanon, en hulle sê: Vandat jy daar lê, klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie.
(Isa 14:9)  Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan.
(Isa 14:10)  Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword.
(Isa 14:11)  Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as ‘n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking.
(Isa 14:12)  Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!
(Isa 14:13)  En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde.
(Isa 14:14)  Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!
(Isa 14:15)  Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!
(Isa 14:16)  Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het?
(Isa 14:17)  Die wêreld soos ‘n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangenes nie losgelaat het huis toe nie?
(Isa 14:18)  Al die konings van die nasies, hulle almal rus met eer, elkeen in sy huis;
(Isa 14:19)  maar jy is gewerp, ver van jou graf, soos ‘n afskuwelike uitspruitsel, oordek met die wat verslaan is, wat deurboor is met die swaard, wat neerdaal na die klippe van die grafkuil soos vertrapte aas.
(Isa 14:20)  Jy word nie met hulle in die graf verenig nie, want jy het jou land verwoes, jou volk gedood; die nageslag van die kwaaddoeners word vir ewig nie genoem nie.
(Isa 14:21)  Maak ‘n slagbank gereed vir sy seuns, om die ongeregtigheid van hulle vaders ontwil, dat hulle nie opstaan en die aarde in besit neem en die bodem van die wêreld vol stede maak nie.
(Isa 14:22)  So sal Ek dan teen hulle opstaan, spreek die HERE van die leërskare, en van Babel uitroei die naam en die oorblyfsel, kroos en nageslag, spreek die HERE.
(Isa 14:23)  En Ek sal dit ‘n besitting maak van krimpvarkies en tot waterplasse; en Ek sal dit wegvee met die besem van verdelging, spreek die HERE van die leërskare.
(Isa 14:24)  Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand:
(Isa 14:25)  om Assur te verbreek in my land, en op my berge sal Ek hom vertrap, sodat sy juk van hulle kan afgly en sy las van hulle skouer kan wyk.
(Isa 14:26)  Dit is die besluit wat geneem is oor die hele aarde, en dit is die hand wat uitgestrek is oor al die nasies;
(Isa 14:27)  want die HERE van die leërskare het dit besluit—wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek—wie sal dit kan afkeer?
_________________________________________________________________________________
ESEG. 28:
(rol af vir die tweede gedeelte van Eseg. 28)

IN HIERDIE SKRIFGEDEELTE MOET ONS ONDERSKEI TUSSEN DIE: 
 "vors van Tirus" (v. 1-11 - woorde wat aan hom gespreek word), 
en die
 "koning van Tirus" (v. 12-19 - 'n klaadglied oor hom).

VORS VAN TIRUS:
(Eseg. 28:1)  Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
(Eseg. 28:2)  Mensekind, sê aan die vors van Tirus: So spreek die Here HERE: Omdat jou hart hoogmoedig was en jy gesê het: Ek is ‘n god, ek bewoon ‘n godewoning in die hart van die seë—terwyl jy tog ‘n mens is en geen god nie—en jou hart gemaak het soos die hart van ‘n god;
(Eseg. 28:3)  kyk, jy is wyser as Daniël, alles wat verborge is, is vir jou nie te duister nie!
(Eseg. 28:4)  Deur jou wysheid en deur jou verstand het jy vir jou rykdom verkry, ja, jy het goud en silwer in jou skatkamers verwerf;
(Eseg. 28:5)  deur die grootheid van jou wysheid in jou koophandel het jy jou rykdom vermeerder, en jou hart het hoogmoedig geword deur jou rykdom;
(Eseg. 28:6)  daarom, so sê die Here HERE: Omdat jy jou hart gemaak het soos die hart van ‘n god,
(Eseg. 28:7)  daarom, kyk, Ek bring vreemdes oor jou, die geweldigste nasies, en hulle sal hul swaarde trek teen die skoonheid wat jou wysheid verwerf het, en jou glans ontheilig.
(Eseg. 28:8)  In die kuil sal hulle jou laat neerdaal, en jy sal in die hart van die seë die bittere dood sterwe van een wat verslaan is.
(Eseg. 28:9)  Sal jy werklik sê, in die aangesig van hom wat jou doodmaak: Ek is ‘n god! —terwyl jy tog ‘n mens is in die hand van hulle wat jou deurboor, en geen god nie?
(Eseg. 28:10)  Jy sal die dood van onbesnedenes sterwe, deur die hand van vreemdes; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE.

OPSOMMING:
Feite oor die "vors van Tirus":
* in hart hoogmoedig en sien (hom)self as 'n god met 'n godewoning in die hart van die see (Eseg. 28:2,6)(maar is hy geen god nie, maar 'n mens!-v.9); in hart hoogmoedig weens rykdom (v.5)
* wyser as Daniel (28:3); en deur wysheid en verstand het hy rykdom verkry (v.4); en deur die grootheid van sy wysheid in koophandel, het sy rykdom vermeerder (v.5);

Wat sal met hom gebeur?:  
-die Here sal die geweldigste nasies (vreemdes-v.7,10) oor hom bring, en hulle sal hul swaarde teen hom trek en sy glans ontheilig (v.7); 
-hierdie vreemdes sal hom in die kuil laat neerdaal en hy sal deurboor word (v.9) en in die hart van die see die bittere dood sterwe, verslaan (v.8); sal die dood van onbesnedenes sterwe  

VORS VAN TIRUS:  "Vors (leier/heerser) van Tirus" spreek van 'n MENS wat homself voordoen as 'n god(v. 2 en 9)(soos 'n valse Christus), en die "vors van Tirus" sal doodgemaak word ("bittere dood sterwe"-v.10). As hierdie verwys na die antichris, dan klop dit nie met Openb. 19:20 nie, wat sê dat die "dier"(antichris) en die valse profeet lewendig in die poel van vuur gegooi sal word. 
Dan. 8 verklaar ook dat die antichris sonder toedoen van mensehand verbreek sal word - die "vors van Tirus" sal egter deur "vreemdes en die geweldigste nasies" gedood word!  So die "vors van Tirus" verwys dus nie na die antichris nie...;  en ook nie na die duiwel nie, want die duiwel word nie gedood nie maar sal in die volgende eeu vir 1000 jaar gebind word en daarna in die poel van vuur gegooi word (Openb. 20:2,10)

Die vors van Tirus se woning word ook verder voorgestel as "in die hart van die see", en kan miskien vgl. word met Eseg. 27 - 'n klaaglied oor Tirus wat "woon by die ingange van die see" en "handel drywe met die volke na baie kuslande toe" (en kyk die woorde wat dan volg in Eseg. 27:4 - "In die hart van die seë is jou gebied"). Die woorde "godewoning in die hart van die seë" kan dus bloot verwys na 'n seeport. Die vors van Tirus verwys dus na die leier of heerser van die persoon wat oor die "koning van Tirus" (bv. Tirus, Libanon) regeer.
_________________________________________________________________

KONING VAN TIRUS:
(Eze 28:11)  Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
(Eze 28:12)  Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid.
(Eze 28:13)  Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei.
(Eze 28:14)  Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.
(Eze 28:15)  Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.
(Eze 28:16)  Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut!
(Eze 28:17)  Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.
(Eze 28:18)  Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek ‘n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het.
(Eze 28:19)  Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.

Feite oor die koning van Tirus:
- is die totale som - vol wysheid en volmaak in skoonheid (v. 12);
- was in Eden (die tuin van God); bedek met allerhande edelgesteentes... (v.13); gestel op 'n heilige berg (v.14);
- was 'n gerub WAT BESKUT (v.14);
- 'n god, en het gewandel tussen vurige gesteentes (v.14);
volkome in sy weë van die dag wat hy geskape is: -totdat daar ongeregtigheid in hom gevind is! (v.15)(geweld-v.16)(hoogmoedigheid-v.17); het wysheid, maar het dit verderwe weens glans (v.17);
- groot in koophandel (v.16,18)(wat veroorsaak het dat hy geweld en onreg pleeg);
- gesondig deur geweld daarbinne (v.16);
- hoogmoedig oor skoonheid (v.17);

Wat sal met die koning van Tirus gebeur?:
was eens heilig, maar nou onheilig (en het sy heiligdomme ontheilig-v.18) 
- en daarom hierdie oordeel... - afgedrywe vanaf die godeberg en vernietig tussen die vurige gesteentes uit (v.16);
- is op grond neergewerp en oorgegee voor die aangesig van konings (dat hulle op "hom" kan neersien)(v.17);
- verteer deur vuur en tot as gemaak (v.18);
- het 'n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie (v.19).
KONING VAN TIRUS: -In ag geneem dat die "koning van Tirus"  tot as gemaak sal word, met vuur brand, 'n verskrikking word en daar nie meer sal wees tot in ewigheid nie... (v. 18 en 19), maak dit onwaarskynlik dat hierdie "koning" verwys na die duiwel. Dit verwys ook nie noodwendig na 'n persoon nie, maar kan na "iets" verwys. 


Die feit dat hy/dit 'n "gerub" genoem word, beteken nie dat die koning van Tirus verwys na 'n engel nie want dit kan slegs 'n denkbeeldige voorstelling wees met, let wel, die klem op die woorde "wat beskut" - m.a.w. die voorstelling  (van gerub) wys op die feit dat die koning van Tirus 'n beskutting is. Volgens v. 14 is dit gestel op 'n heilige berg en die berg word "godeberg" genoem in v. 16 (in KJV word dit vertaal as "mountain of God") - dus, was heilig maar ontheilig (v.18).  Was afgesonder (geheilig) om groot te wees in koophandel en was die som van kundigheid en terloops vreeslik mooi... (v. 12-14)(was soos 'n god, soos 'n heerser), maar het hoogmoedig geword oor sy skoonheid en wysheid (v.17). Het onreg gepleeg in koophandel en 'n menigte ongeregtighede gepleeg (v.18). Die uiteinde is dat hierdie "koning" (bv. stad) weens sy hoogmoedigheid gevul is met geweld  en gesondig het en is daarom deur die Here neergewerp (v.17-19)(tot as verbrand en sal in ewigheid nooit meer wees nie). 

Dus, alhoewel die "koning van Tirus" (1) 'n "gerub" genoem word (wat terloops ook beeldspraak kan wees), ook dat hy (2) in Eden, in die tuin van God was, beteken dit nie noodwendig dat hierdie koning na " 'n persoon" (of soos sommige dink, na die duiwel) verwys nie, want ander punte word genoem soos die feit dat (3) sy bedekking allerhande edelgesteentes was, en (4) gestel op 'n heilige berg...  Watter persoon se bedekking is allerhande edelgesteentes, of is gestel op 'n heilige berg? (...maar natuurlik is beeldspraak ook hier betrokke).  

Dit wil dus voorkom of die "koning van Tirus" moontlik eerder verwys na iets soos 'n stad of 'n tempel? (en nie na 'n "koning" nie, maar 'n stad wat soos 'n koning is bv. oor ander stede) - maar wel 'n stad of tempel wat met vuur verbrand sal word, 'n verskrikking word en daar nie meer sal wees tot in ewigheid nie. Hierdie laat mens nogal dink aan wat met verborge Babilon sal gebeur en daar kan beslis ook ingekyk word hierop...
Dit feit dat die koning van Tirus "gestel was/is op 'n heilige berg, wil mens laat dink dat dit moontlik kan verwys na die tempel van God in Jerusalem, maar siende dit tot in ewigheid nie meer sal wees nadat dit met vuur verbrand is nie, is dit onwaarskynlik dat dit na die Tempel verwys - siende ons weet dat daar ook 'n tempel sal wees in die volgende eeu (in die 1000 jaar Ryk), en daarna, die nuwe Jerusalem op die nuwe hemel en aarde... Behalwe dit sluit die doel van 'n tempel nie koophandel in nie!

Die area van waar hierdie koning van Tirus gevind kan word, word ook gegee, nl. "in Eden, die tuin van God" (v. 13). Verder word hy/dit genoem koning van" TIRUS ". Die woord "Tirus" moet tog ook 'n aanduideling wees van "waar". Let wel dat waar "in Eden, die tuin van God" genoem word, dit nie verwys na slegs die tuin van Eden (wat in die oostelike deel van Eden was) nie, maar verwys na (die gebied van) "Eden" (http://warechristene.blogspot.co.nz/2018/02/eden-tuin-van-eden.html)- 'n heelwat groter area as net die tuin van Eden. Dat Eden in die dele vd Libanon en van Tirus kon was, is inderdaad moontlik.  

Volgens geskiedenis was Tirus op 'n eiland weg van die kus en Alexander die grote het die eiland met die land konnek... (Let wel in die volgende gedeelte in Eseg. 28, is daar ook 'n woord uitgespreek oor "Sidon" - huidig derde grootste stad in Libanon..).
---------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie: