Wys tans plasings met die etiket geregtigheid doen. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geregtigheid doen. Wys alle plasings

Saterdag 20 Oktober 2012

Jood sowel heiden, het hulle Messias gekruisig!

Die belofte aan Abraham dat God hom sou seen en 'n groot nasie sou maak en dat hulle vir Hom 'n volk sou wees, en Hy vir hulle 'n God sou wees (met voorwaardes natuurlik!), het nie daar gestop nie.  God het ook belowe dat AL DIE NASIES van die aarde deur Abraham geseen sou word.  Dit sou beteken dat nie net die wat uit die geslag van Abraham gebore word, deel sou wees van die verbondsvolk nie, maar dat enige iemand sou kon deel word van die "verbondsvolk".  Kyk na Petrus se woorde Hand. 3:25 (aan die Jode) - "En julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word".
 vgl. dit met Gen 26:4, dieselfde belofte aan Isak as wat die Here aan sy vader Abraham gegee het:   "En Ek (1) sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel (2) en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en (3)  in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word".
 Wat beteken dit regtig dat, in sy nageslag, al die nasies van die aarde geseen sou word? Jesus is gebore uit hierdie nageslag - Paulus verduidelik dit verder vir ons in Gal. 3. (Gal 3:8)  "En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word".... (Gal 3:16)  "Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus".  Hierdie was dus geen geheim nie! Toe Petrus dit in Hand. 3 aanhaal, was hierdie niks nuuts vir die Jode nie.  Hulle het hierdie beloftes geken en geweet wat die Torah se hieroor. Dit is Hy wat in wie AL DIE NASIES VAN DIE AARDE GESEEN sou word.

(Openb. 22:16)  Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.

Daarom dan dat Paulus dit belangrik ag om die brief aan die Romeine te begin met die volgende woorde: (Rom 1:1)  Paulus, ‘n dienskneg van Jesus Christus, ‘n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God—(Rom 1:2)  wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte,(Rom 1:3)  aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid". 
Dit dan ook hoekom Mattheus begin met 'n geslagsregister van Jesus Christus.  Dit dan hoekom soveel Hom genoem het "Seun van Dawid". 

Hierdie feit en bewys, is dus net so belangrik vir ons as heidene om die Messias te kan identifiseer, as wat dit was vir die Jode!  Hy sou ook ons Saligmaker wees, hierdie Een wat gebore is uit die geslag van Dawid!  Dat die Messias "die Saligmaker" sou wees waarop almal gewag het, was algemene kennis onder die volk. Die tema van Hom as "SALIGMAKER", was nie iets wat die dissipels uitgedink het nie, want die Jode het goed verstaan uit O.T. profesiee dat die Messias instaat sou wees om sondes te vergewe.  Ons sien ook hierdie belydenis van sekere Samaritane in Joh. 4: (42)  "en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is". Dus is die geskiedenis van Abraham vir die heidene net so belangrik, want uit sy saad, sou die Messias gebore word, die Saligmaker wat sondes vergewe - OT profesiee verklaar dat hy sou deurboor word, doodgemaak word en vir ons oortredinge sou betaal.  En as ons reken dat die heidene niks te doen gehad het hiermee nie, is dit nie waar nie, want alhoewel die owerpriesters en skrifgeleerdes Hom tot die dood veroordeel het, oorgelewer het om doodgemaak te word, is dit die HEIDENE wat Hom bespot het en gegesel en gekruisig het.  (Mat 20:18 - "Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel (Mat 20:19)  en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan". 
Jood sowel heiden het hulle Messias gekruisig!  

Hierdie belofte van saligheid, ook aan die heidene, het regtig eers duidelik geraak toe die Here vir Petrus na die huis van Cornelius stuur, 'n man wat nie 'n Jood was nie, maar wel die Here gevrees het.  Tot op daardie stadium was die evangelie nog net aan Jode verkondig, maar nou het Hy vir Petrus gestuur na iemand wat nie 'n Jood was nie, maar Hom gevrees het.  Kom ons kyk na Petrus se woorde aan Cornelius en sy familie in Hand. 10 - (:27- 35) "En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het; en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het.  En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid, en meteens staan daar ‘n man voor my in ‘n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring. Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, ‘n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek. Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is. En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.

Ons sien dus dat die evangelie eerstens aan die Israeliete verkondig was: -  In Hand. 3:22, verduidelik Petrus dit as volg: (v.22 - 26) "Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek.  En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word.  En ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig.  En julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word. God het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer".  Daarom dan ook hoekom Jesus nie onmiddellik die Kananese vrou wou help nie in Matt. 15:
(Mat 15:22)  En ‘n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete.

(Mat 15:23)  Maar Hy het haar nie ‘n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan.
(Mat 15:24)  Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.
(Mat 15:25)  Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my!
(Mat 15:26)  Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie. (l.w. die Jode het die heidene "honde" genoem)
(Mat 15:27)  En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.
(Mat 15:28)  Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.

Dus, ten spyte daarvan dat Jesus eerstens gekom het vir die kinders van Israel, het hierdie vrou bewys dat die seen haar ook toekom omdat sy die geloof gehad het.  Daarom het Jesus haar gehelp! 
Ook om hierdie rede het Jesus met die uitstuur van die 12 dissipels in Matt. 10:5-7, hulle belet om na die heidene te gaan: "Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie;  maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom".  Die huis van Israel moes eerstens bedien word.  Tog in dieselfde gedeelte vertel Jesus hulle hoe hulle later ook aan die heidene sal getuig:  (Mat 10:18)  "En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ‘n getuienis vir hulle en vir die heidene".


Die eerste klompie jare nadat Jesus opgevaar het hemel toe, het die eerste gemeentes dus net uit Jode bestaan.  Baie Jode het hulle Messias aanvaar en tot saligheid gekom, maar ander het hulle nie bekeer nie:  (Hand. 13:46-48)  "Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene.  Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde. En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe".


Jesus het hierdie feit bevestig alreeds in Mat 21:42,43: "Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?  Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra". 

Dit is in alle gevalle, die wat die Here vrees en Sy geregtigheid doen, wat vir die Here welgevallig is.  Dit is dan ook op daardie kriteria wat Noag gekies is deur die Here, Moses gekies is, Jakob (Israel)gekies is...en dit is hulle wat na die Saligheid verlang het, die Een wat hulle van hulle sondes sou verlos... Dus, heiden of nie-heiden, God is geen aannemer van die persoon nie, maar in elke nasie het die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, die kans om vergifnis van sondes te ontvang, sou hulle glo in die Een wat gestuur is, die Messias, Jesus Christus.




(Gal 3:26)  Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;

(Gal 3:27)  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

(Gal 3:28)  Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.

(Gal 3:29)  En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.