(Openb. 21:1) En ek het
‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.
(Openb. 21:2) En ek, Johannes, het die
heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.
(Openb. 21:3) En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk,
die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.
(Openb. 21:4) En God sal al die
trane van hulle oë afvee, en
daar sal geen dood meer wees nie; ook
droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.
(Openb. 21:5) En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.
(Openb. 21:6) En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek
gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.
(Openb. 21:7) Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.
(Openb. 21:8) Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.
(Openb. 21:9) En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.
(Openb. 21:10) En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon,
die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal;
(Openb. 21:11) en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen.
(Openb. 21:12) En dit het ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel.
(Openb. 21:13) Aan die oostekant was daar drie poorte, aan die noordekant drie poorte, aan die suidekant drie poorte, aan die westekant drie poorte.
(Openb. 21:14) En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam.
(Openb. 21:15) En hy wat met my gespreek het, het ‘n goue meetroede gehad, om die stad en sy poorte en sy muur te meet.
(Openb. 21:16) En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte. En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend vyf honderd myl; sy lengte en breedte en hoogte was gelyk.
(Openb. 21:17) En hy het sy muur gemeet op honderd vier en veertig el, volgens ‘n mens se maat, wat die maat van ‘n engel is.
(Openb. 21:18) En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos suiwer glas.
(Openb.21:19) En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes. Die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde chalcedoon, die vierde smarag;
(Openb. 21:20) die vyfde sardóniks, die sesde sardius, die sewende chrisoliet, die agtste beril, die negende topaas, die tiende chrísopraas, die elfde hiasínt, die twaalfde ametís.
(Openb. 21:21) En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas.
(Openb.21:22) En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.
(Openb. 21:23) En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.
(Openb. 21:24) En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.
(Openb. 21:25) En bedags want nag sal daar nie meer wees nie sal sy poorte nooit gesluit word nie;
(Openb. 21:26) en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.
(Openb. 21:27) En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.
(Openb. 22:1) En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam.
(Openb. 22:2) In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.
(Openb. 22:3) En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien.
(Openb. 22:4) En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees.
(Openb.22:5) En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.
(Openb. 22:6) En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur.
(Openb. 22:7) Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.
(Openb. 22:8) En dit is ek, Johannes, wat dit gesien en gehoor het; en toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het.
(Openb. 22:9) Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God.
(Openb. 22:10) En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.
(Openb. 22:11) Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.
(Openb. 22:12) En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.
(Openb. 22:13) Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.
(Openb. 22:14)
Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.
(Openb. 22:15) Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.
(Openb. 22:16) Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.
(Openb. 22:17) En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.
(Openb. 22:18) Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.
(Openb. 22:19) En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.
(Openb.22:20) Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!
(Openb. 22:21) Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.
_________________________________________________________________________________