Sondag 19 Augustus 2012

Gee ons meer geloof...

VIR DAGSTUKKIES OOR HIERDIE ONDERWERP, GAAN NA:
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/02/wanneer-iemand-die-here-versoek-wys-dit.html
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/04/wat-het-logika-daarmee-te-doen_29.html
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/05/dis-orraait-om-te-verloor.html
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
(Luk 17:5)  Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof.
(Luk 17:6)  En die Here sê: As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant—en hy sou julle gehoorsaam wees.

Net soos die apostels, wil ons ook somtyds vra:  Here, gee ons meer geloof...  Hoe gaan ons meer geloof he?  In v. 7-10 verduidelik Jesus dit as volg:  (Luk 17:7) "En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? (Luk 17:8)  Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? (Luk 17:9)  Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. (Luk 17:10)  So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen".  
Hierdie antwoord van die Here, is NIE so heeltemal wat meeste sou verwag Jesus se antwoord sou wees nie! Wat het "dienskneg" te doen met "geloof"?  

As ons gaan kyk na wat "geloof" self werklik is, (Hebr. 11:1-"Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie"), dan merk ons dat dit iets is wat van binne kom - VERTROUE, HOOP...  maar wat het dit te doen met "dienskneg"?  
Kom ons kyk na 'n vb. van 'n vertrouensverhouding in 'n opset van werk en waar iemand vir 'n baas werk: dit is altyd maklik om te sien wie die is wat "vertroue" in hulle base het. 'n Werker wat reken dat hyself beter besluite neem as die baas, of dat hy meer kennis het, gaan nie altyd die baas onderdanig wees nie en ook kronies verskil van hom.  Daar is dus nie die nodige vertroue nie.  Kyk ons na 'n ouer-kind verhouding waar die kind glo dat sy pa of ma minder weet as sy onderwyser of as wat die wereld vir hom vertel, dan is die ook 'n tipiese geval waar die kind in opstand kom teen die ouer se gesag, m.a.w. daar is nie vertroue nie.  Vertroue en hoop is dus gegrond op ons persepsie van 'n ander en word bewys deur die "ondergeskik stel van", of " 'n dienskneg wees van".  Iemand stel homself ondergeskik aan sy leier omdat hy sy leier vertrou.  'n Kind stel homself ondergeskik aan 'n ouer, omdat hy sy ouer vertrou.  Waar daar dus 'n "opstand" probleem is, is daar ook 'n probleem met vertroue. 'n Kind kan nou nie juis 'n vader vertrou wat onregverdig is nie!  'n Werker kan nie 'n baas vertrou wat skelm is nie!  
As iemand iemand anders ten volle vertrou, sal hy ook onderdanig wees ten spyte van die feit van of hy met hom saamstem of nie!   Dit het dus te doen met ons persepsie van die ander persoon. NET SO HET "GELOOF" TE DOEN MET ONS PERSEPSIE VAN DIE HERE.  As ons persepsie reg is, dan wil ons Sy dienskneg wees, m.a.w. Hom vertrou - dit is nie iets wat opgewek word nie, maar 'n toestand van die hart. Ons as ouers moet dus seker maak dat ons die regte persepsie van die Here by ons kinders kweek.  Daarom is dit belangrik om vir hulle te leer dat die Here regverdig is, dat Hy nooit foute maak nie, dat Hy altyd help, dat Hy in beheer is ens....., maar meer nog, moet ons daardie geestelike lewe vir hulle wys deur saam met hulle te bid of hulle te leer om self na die Here uit te reik, 'n lewe  lewe van onderdanigheid aan die Here sodat hulle dit eerstehans kan ervaar.  Ons sien dus die belangrikheid van geestelike onderrig en Christelike lewe.  

Baie mense soek "geloof" vir die verkeerde redes, m.a.w. vir wat hulle uit die "deal" kan kry.  Dit is juis waarna Jesus verwys in v.7-10!  ((Luk 17:10)  So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen").  As iemand die Here dien bloot vir wat hy uit die deal kan kry, dan is sy persepsie verkeerd.  Dan gaan dit oor om "homself groter te maak".  Daarom moet ons ons kinders van kleins af leer dat "werk" nie altyd vir "verdienste" is nie! Die lewe gaan nie regtig oor "wat iemand vermag" of "verdien" nie, maar eerder oor "dien".  Omdat meeste mense met 'n verkeerde persepsie grootword dat die lewe gaan oor vermag of verdien, is dit vir hulle moeilik om "te dien" - dit is hoekom mense altyd wil probeer uitstyg bo ander, sodat hulle nie hoef "te dien" nie.  Dit is hoekom Eva van die boom van kennis van goed en kwaad geeet het, sodat sy "soos God" kon wees - die begeerte na "groter of beter wees" was altyd dit wat die mens laat faal het. 


Ons persepsie moet wees: 
- dat die Here in beheer is van ons lewe en die lot van ons lewe bepaal en dat ons moet lewe volgens Sy wil;
- dat die mens, as deel van Sy skepping, Hom moet eer (hoe kan die skepping groter wees as die Skepper!);
- dat die Here nie beskryf word deur die mens nie, maar Hy die een is wat altyd was, is, en sal wees en Homself beskryf aan die mens soos Hy wil;
- dat die mens, as deel van Sy skepping, Hom moet gehoorsaam en dat die Here van hom kan verwag wat Hy ookal wil en met hom doen, wat Hy ookal wil.

Wanneer iemand leer om gehoorsaam te wees aan die Here, dan kom geloof outomaties, want deurdat iemand gehoorsaam is aan Sy opdragte, werk Hy deur hom.  So werk die Here ook net Sy gawes deur die wat bloot gehoorsaam is! - deur die wat DIENSKNEGTE is (sonder om iets te wil verdien).

Ons kan ons kinders leer om onderdanig te wees, gehoorsaam te wees ens., maar as hulle persepsie verkeerd is, dan is die ding in hulle harte ook verkeerd.  Dit gaan dus oor "hoe iemand die Here sien".

Geen opmerkings nie: