Maandag 27 Augustus 2012

Wie's nou eintlik deur die Gees gelei?

VIR 'N DAGSTUKKIE OOR HIERDIE ONDERWERP, GAAN NA:
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/04/wat-het-logika-daarmee-te-doen_29.html

------------------------------------------------------------------------------------------------------------
(Hand. 21:3.4)  "En toe ons Ciprus in die gesig gekry het en dit aan die linkerhand laat lê het, het ons na Sírië gevaar en by Tirus aangekom, want daar sou die skip sy vrag aflaai.  En nadat ons die dissipels gevind het, het ons daar sewe dae gebly; en hulle het vir Paulus deur die Gees gesê om nie op te gaan na Jerusalem nie".
(Hand. 21:8-11)  "En die volgende dag het ons, die geselskap van Paulus, vertrek en in Cesaréa aangekom; en ons het ons intrek geneem in die huis van Filippus, die evangelis, wat een van die sewe diakens was, en by hom gebly.  En hy het vier ongetroude dogters gehad wat die profetiese gawe besit het.  En onderwyl ons baie dae daar oorgebly het, het ‘n sekere profeet met die naam van Agabus van Judéa afgekom.  En toe hy by ons kom, neem hy die gordel van Paulus en bind sy eie hande en voete en sê: Dít spreek die Heilige Gees: So sal die Jode die man wie se gordel dit is, in Jerusalem bind en in die hande van heidene oorlewer".
(Hand. 21:13) "Maar Paulus het geantwoord: Wat doen julle dat julle ween en my hart week maak? Want ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus".


Wie was nou eintlik deur die Gees gelei?  Paulus?  Of die dissipels?  Paulus het gevoel dat die Gees hom lei om op te gaan Jerusalem toe (Hand. 20:22-25);  die dissipels het gevoel die Gees lei hulle om hom te verhoed om op te gaan Jerusalem toe.  Wie was regtig deur die Gees gelei?  Moes Paulus na die dissipels geluister het? Ons bevind onsself ook baiemaal in hierdie posisie waar ander mense vir ons wil besluit. Alhoewel dit somtyds is omdat ander omgee, is hulle besluit nie altyd reg nie en kan hulle eintlik veroorsaak dat ons nie die wil van die Here uitvoer nie. 
Voor Paulus oorgevaar het na Tirus (Hand. 21:3,4), het hy in Efese letterlik totsiens gese aan die dissipels daar, selfs verklaar dat hy hulle nie meer sal sien nie! (Hand. 20:22-25).  Die Here het vir hom gewys dat daar iets op hom wag, tog nie vir hom gese om nie te gaan nie. Die dissipels in Tirus se waarskuwing was meer deur vrees gedrywe en deur die manier "hoe hulle sien".  Die feit dat die Here vir Paulus gewys het wat gaan gebeur, het nie beteken dat hy nie moes gaan nie.  Logika het maar min met besluite te doen. 
 Besluite moet nooit deur logika of vrees gedryf word nie, maar deur die wil van die Here.  

Dit is nie die enigste geval waar ons van hierdie soort optrede lees nie - kyk ook Mat 16:22 nadat Jesus vir die dissipels vertel het hoe Hy sal ly, doodgemaak word en op die derde dag sal opstaan:  
"Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! (v.23)  Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense".  Die raad wat ander vir ons gee, alhoewel met goeie bedoelings, is nie altyd die wil van die Here nie - Jesus noem dat dit is wanneer iemand "die dinge van mense bedink" en nie van God nie. Logika of kennis het min met "besluite" te doen en word baiemaal deur verkeerde motiewe gedrywe. Die gelowige is veronderstel om, soos Paulus, net eenvoudig GEHOORSAAM te wees (aan die Here), maak nie saak wat die implikasies van die besluit gaan wees nie, maar natuurlik moet daardie gelowige dan ook die wil van God ken! (Dit kan bv. nooit die wil van die Here wees dat iemand "verkeerd doen" nie, dus, in so 'n geval, sou dit die Christen se plig wees om in te gryp en "vir iemand 'n besluit te neem" en die persoon te waarsku). 
In alle gevalle, is dit Christene se plig om mekaar te oortuig om DIE WIL VAN DIE HERE TE SOEK EN TE DOEN.  Daarom sal ander gelowiges se logika nie altyd sin maak nie.  Die gelowige moet hom deur die Here laat lei, nie deur mense nie!  
Ons moet dus versigtig wees wanneer ons ander wil "help" dat ons onsself nie bevind in die posisie waar Petrus homself bevind het nie. 
Baie Christene sien vandag "Christenskap" as 'n taak om vir ander te help "om besluite te neem",  terwyl ons eerder mekaar moet bemoedig "om die wil van die Here te doen"   - in bg. gevalle het die dissipels Paulus bemoedig om nie die wil van die Here te doen nie;  het Petrus vir Jesus bemoedig om nie die wil van die Vader te doen nie... (alhoewel dit nie hulle bedoeling was nie!).  Ons moet versigtig wees en mekaar eerder ondersteun en ander se oe op die Here rig. Ook moet ons hierdie ding vir ons kinders van kleins af leer deur 'n vb. te stel van waar familie altyd eers bid oor 'n saak, en wag op die Here se antwoord alvorens daar opgetree word. Kinders leer so van jongs af gehoorsaamheid aan die Here.  Ouers wat nie 'n vb. wys van gehoorsaamheid aan die Here nie, leer hulle kinders om eerder gehoorsaam te wees aan mense as aan die Here.  Terwyl daar van die kind verwag word om gehoorsaam te wees aan die ouer, moet die kind ook verstaan dat, wanneer hy gehoorsaam is aan sy ouer, hy eintlik gehoorsaam is aan die Here omdat die ouer gehoorsaam is aan die Here. In daardie sin behou die kind die konsep van wie REGTIG IN BEHEER IS! 


-Christene moet mekaar dus bemoedig om DIE WIL VAN DIE HERE TE SOEK en dan mekaar ondersteun! 
-Die Christen se taak is nie om vir ander Christene "besluite te neem" nie!  Die leierskap in die kerk se taak is ook nie om besluite te neem nie, maar om na die wil van Here te vra (en dan gehoorsaam te wees aan die Here).  Om ander gelowiges te lei, het min te doen met besluite, maar eerder om iemand anders te ondersteun OM DIE WIL VAN DIE HERE TE DOEN.  
- Dit is ook a.g.v. hierdie feit dat min Christene regtig die gawes van die Gees ervaar, omdat hulle nie weet wat dit is om na die wil van die Here te soek en GEHOORSAAM te wees nie.  Gawes het te doen met WAT DIE HERE WIL DOEN, nie wat mense wil doen nie. 
-Christenskap gaan nie oor "ons wil" nie, maar oor die Here se wil.  Kerk moet nie gaan oor die besluite wat ons neem nie, maar oor gehoorsaamheid aan die Here se wil.  

"DIE CHRISTEN HOEF EINTLIK GEEN BESLUITE TE NEEM NIE, HY MOET NET GEHOORSAAM WEES!" (aan die Here, natuurlik!)
(Hand. 5:29)  "En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense".


Geen opmerkings nie: