Donderdag 18 Oktober 2012

Die ultimate bewys is in "om Hom te KEN"

VIR DAGSTUKKIES WAT HIERDIE ONDERWERP BEVAT, GAAN NA:
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/05/afgodsdiens-in-die-kerk.html

----------------------------------------------------------------
(Mat 16:15)  "Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?
(Mat 16:16)  En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.
(Mat 16:17)  Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is".
-----------------------------------------------------------
Dit is interessant om te merk Jesus se opmerking aan Petrus in bg. skrifgedeelte.  Wat ons miskien eerder sou dink Jesus se opmerking sou wees, is iets soos dat Hy agtergekom het Petrus KEN DIE SKRIFTE, of dat Petrus die SKRIFTE GOED KON ONDERSKEI - tog het dit niks met Jesus se stelling te doen gehad nie!  Nee, Hy het eerder vir hom gese: "Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is".  Wanneer ons net staatmaak op die letter, dan gaan dit min oor die waarheid, maar eerder oor hoe ons dit interpreteer.  Wanneer ons die Here PERSOONLIK LEER KEN, dan begin gaan dit oor Sy wil en raak die waarheid vir ons duidelik. Dus, al sou ons die skrifte goed ken en onderskei, is dit alleen nie genoeg om ons te oortuig nie. Geen mens kan werklik tot wedergeboorte kom as hy nie uitroep na die Here en Hom persoonlik leer ken nie. Feitlik elke Christelike getuienis van iemand wat werklik tot bekering gekom het, is die persone wat in 'n verhouding met die Here gekom het, na Hom uitgeroep het en Hom persoonlik leer ken het - so iemand is gewoonlik absoluut seker van die waarheid en niemand kan hom beweeg nie! (Ongelukkig stop party mense by die wedergeboorte en vergeet die Here later as hulle EERSTE LIEFDE...).    

 Dit is slegs wanneer iemand in 'n persoonlike verhouding met die Here kom, wat hy ook werklikwaar OORTUIG word van die waarheid (inderdaad hoe Petrus oortuig was in bg. skrifgedeelte).  Die letter alleen is nie genoeg nie. Dit is ook interessant dat twyfel gewoonlik intree wanneer iemand nie veel persoonlike tyd met die Here spandeer nie.  Vele Christene bevind hulself  op hierdie plek en voel ver van die Here en onseker oor die waarheid.  Die letter is nie genoeg nie.  Jesus het vir ons die voorbeeld gestel van hoeveel ons moet bid en ook die opdrag gegee dat ons persoonlike tyd met die Here moet spandeer: (Mat 6:6)  "Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde". Geloof is 'n HARTSAAK - dit was juis die fout wat die Skrifgeleerdes en Fariseers gemaak het, dat dit vir hulle gegaan het oor letter en uiterlike gebaar - hierdie "gemaakte" geloof veroorsaak gewoonlik dat mense plek maak in hulle hart vir "menslike gebooie" en dit veroorsaak dat hulle dan nie van die waarheid oortuig is nie:
(Mat 15:8)  "Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.
(Mat 15:9)  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is".
-(dit is ook gewoonlik die oorsaak van hoekom iemand nie die nodige "vrug dra nie").

--------------------------------------------------
DIE VERSKIL TUSSEN 'N MENSGEMAAKTE GELOOF EN WARE GELOOF, is dat 'n mensgemaakte geloof  "nie na die wil van die Here soek nie", terwyl in ware geloof  " die persoon homself ondergeskik stel aan die Here, na die wil van die Here soek en Hom wil gehoorsaam.   (Mat 6:24)  "Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag...".  
So iemand wat egter na die Here self soek en na Sy wil, kan nie anders as om OORTUIG te word van die waarheid nie.  Dit gaan dus oor "om in 'n ware verhouding met die Here te wees", nie oor ydelike herhaling van woorde in gebed, of sekere gewoontes nie, ens.....  Jesus het die "ewige lewe" as volg beskryf in 'n gebed wat Hy gedoen het tot God die Vader:  (Joh 17:3)  "En dit is die ewige lewe, dat hulle U KEN, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het".  As iemand dan nou verklaar dat hy die ewige lewe besit in Jesus Christus, beteken dit eintlik dat hy Hom KEN.  Sonder om Hom te ken, kan jy nie die ewige lewe besit nie!



As iemand Hom nie werklik KEN nie, dan sal hy ook altyd twyfel in wat werklik die waarheid is 
(al ken hy ook die skrifte baie goed!).  

Geen opmerkings nie: